Moet ek my kind vir terapie neem as hy / sy nie gewillig is om te gaan nie?

Die verhaaltjie van ‘n pa en sy tienerseun het met dieselfde vraag begin.

‘n Bekommerde ouerpaar meld hul tienerseun (15) vir terapie aan.  Die verhouding tussen pa en seun is glad nie na wense nie en dreig om gewelddadig te raak.  Daar is reeds getuienis van verbale geweld en die seun se gedrag raak toemenend kommerwekkend:  hy presteer glad nie meer volgens sy vermoë op skool nie, het Wiskunde-angs ontwikkel en kom voor asof hy depressief is.

Met die aanvang van terapie is daar die verwagte teenstand van die seun asook aanvanklike ontkenning van redes waarom hy vir terapie moet kom.  Geleidelik begin die prentjie duideliker raak van wat hy beleef, waaraan hy betekenis gee en hoe hy oor sy verhouding met sy pa dink.  Hy word uitgedaag om anders te probeer dink oor sy pa, om ‘n groter prentjie te sien, maar hy is baie negatief en skepties. Na afloop van die sessie bel die pa die terapeut en vra raad – wat doen hy verkeerd, hoe moet hy die seun hanteer?

In die daaropvolgende sessie blyk dit dat die seun gaan dink het oor die tema’s waaroor daar gepraat is, maar dat hy steeds skepties is dat dinge werklik blywend sal verander.  Daar word ook aandag gegee aan sy skoolprestasie, gebrek aan motivering, groepsdruk en hy word aangemoedig om ekstra klasse in Wiskunde by te woon, aangesien hy werklik oor die potensiaal beskik om te presteer.  ‘n Paar dae na afloop van die sessie ontvang die terapeut die volgende boodskap van sy pa:  “Dit gaan BAIE goed met my kind.  Sy terapie sessies help verseker.  Hy het geleer hoe om my en homself te beheer.  Wanneer wil jy hom weer sien?”

Met die afsluiting van terapie stuur hy weer ‘n boodskap waarin hy sy waardering uitspreek:  “Baie dankie vir wat jy vir hom beteken het! Hy het verantwoordelikheidsin geleer.  Hy neem  nou verantwoordelikheid vir dinge tuis wanneer ons nie daar is nie. Baie dankie! Ons het ‘n ander kind.”

Wat sou moontlike redes vir hulle suksesverhaal wees?

Belangrikste is dat daar ‘n erkenning van die nood by die kind raakgesien is en dat die ouer verantwoordelikheid geneem het om hulp vir die kind te kry. Al is die kind aanvaklik nie gewillig nie, word dit sterk aangemoedig dat ouers nie net daaraan sal toegee en skouers optrek nie, maar daadwerklik sal poog om hulp vir jou kind te kry. Die ouer se betrokkenheid en selfondersoek gedurende die terapeutiese proses was ook ‘n groot bydraende faktor. Hy het nie skuld op iemand anders geplaas nie, maar gevra wat hy kan verander in sy eie optrede en hantering van sy kind. Die tiener se gesindheid het opmerklik verander tydens terapie – ook hy was gewillig om te dink en toe te pas wat hy tydens terapie geleer het.

Die terapeut se funksie is om die proses te fasiliteer en die kliënt(e) te lei tot selfontdekking en -besluitneming. Wanneer dit gebeur en daar ‘n waarderende “dankie” aan die einde van die proses uitgespreek word, is dit ‘n ekstra beloning vir die terapeut.  Meestal is die positiewe verandering wat by mense sigbaar word al klaar die beloning wat terapie die moeite werd maak.  Om te kan sien dat die vreugde weer uit die gesig straal en daar ‘n glimlag verskyn; dat daar weer moed is; dat ‘n verhouding herstel is; dat die seer genees is, is die eintlike doel (en beloning) van terapie!