Depressie en Angs

Dikwels wonder mense – “Is ek depressief?” as hulle ‘n sekere mate van ongelukkigheid ervaar, of mense sal vir jou sê hulle is sommer “in ‘n depro” as hulle een of ander teleurstelling of probleem gehad het.  Die feit bly – rofweg gesproke gaan alle mense op een of ander stadium deur depressiewe fases, nie altyd ewe ernstig of langdurig nie, maar dit is wel daar.  Dit kom volgens statistiek 2x meer by vrouens as by mans voor; dit kom meer voor in hoër sosio-ekonomiese groepe; en meer dikwels in die veertigs en vyftigerjare.  Dit is moontlik dat dit meer by meisies en vroue voorkom omdat hulle dikwels beleef dat hulle minder beheer en outonomiteit oor hul lewens het.

Depressie word gediagnoseer wanneer ‘n sekere aantal simptome vir ‘n redelike lang tydperk aanwesig is.  Daar is ‘n teorie waarvolgens ‘n simptoom wat langer as twee dae aanwesig is, alreeds ‘n ernstige aanduider van depressie is. Die tydperk wat simptome aanwesig is, bepaal die graad van depressie wat kan wissel van ‘n ligte tot matige episode, tot ‘n ernstige depressiewe toestand wat selfs tot selfmoord kan lei.

Van die simptome sluit in

Emosionele reaksies:

  • ‘n voortdurende gevoel van hartseer
  • huilerigheid, of huil gedurig
  • gemoedskommelinge of buierigheid
  • voel sommer net ongelukkig vir geen ooglopende rede nie
  • voel hulle is in ‘n donker put
  • ‘n gevoel van hulpeloosheid – ‘n ingesteldheid dat jy geen beheer oor die uitkoms van jou omstandighede het nie
  • voel alleen en eensaam, selfs verwerp – kan aanleiding gee tot oorkompensasie deur ongesonde aandagsoekery en selfs promiskue seksuele gedrag
  • angstigheid neem toe
  • innerlike gejaagdheid (gedrewenheid) – dikwels ‘n uiting van ontkenning van die depressiewe gevoelens
  • rusteloosheid, maar kry min uitgerig

Fisiese simptome:

  • slaappatroon verander
  • eetpatroon verander
  • probleme met spysvertering
  • voortdurende moegheid
  • alles voel na moeite, het nie krag nie
  • raak stadig, traag, passief
  • libido (belangstelling in seks) kan afneem
  • vroue se menstruele siklus kan onderbreek of ongereeld wees
  • geneigdheid tot spanningshoofpyne
  • geboë (krom) liggaamshouding

Denkpatrone:

  • sien nie kans vir iets wat jy normaalweg maklik doen nie
  • swartgallig, negatief oor alles
  • tob gedurig, veral oor jouself en eie dinge
  • oormatig bekommerd
  • oordrewe skuldgevoelens
  • trek dinge uit verband
  • sukkel met besluitneming
  • Daar is dikwels drie kognitiewe of denkpatrone waarneembaar:
  1. ‘n Negatiewe beskouing oor die wêreld
  2. ‘n Negatiewe beskouing oor die self
  3. ‘n Negatiewe beskouing oor die toekoms

Sosiale reaksies:

  • vermy mense en wil alleen gelaat word
  • vermy plekke en aktiwiteite wat jy normaalweg geniet het
  • swak of min oogkontak
  • vertolk andere se optrede negatief of verkeerd
  • verloor sin vir humor

Wanneer raak mense depressief?  Oorsake:

Depressie is ‘n siektetoestand wat gewoonlik gepaard gaan met ‘n chemiese wanbalans in die brein.  Die onderafskeiding van sekere hormone, bv. Serotonin en Norepinefrien, veroorsaak ‘n onderbreking van oordragstowwe in die brein, wat depressie tot gevolg het.  Die onderafskeiding van hierdie hormone kan ontstaan weens:

  1. Verlies-belewenis

Kan wees – Dood van ‘n geliefde; egskeiding; verhuising; nuwe werk/skool/vriende; troeteldier; weens ernstige siekte (kanker, TB, HIV+) of iets traumaties wat gebeur het.

Om verlies te aanvaar is ‘n lang proses en gaan dikwels deur fases van skok, ontkenning, kwaad, skuldgevoelens, onderhandeling, treur (hartseer) en depressie – soms erge depressie en soms depressiewe episodes.

  1. Woede (Anger)

‘Depression is frozen rage’ – sê Seamonds in sy boek Healing for damaged emotions.  Ander bronne noem ook onopgeloste woede as een van die hoofoorsake van depressie.  Woede wat nie hanteer word nie, onderdruk word en nie op die regte manier uitgedruk word nie, lei tot depressie.

Dink byvoorbeeld aan hoe ons grootgemaak is:  ‘n Kind praat nie sommer met sy ouers teë nie – pa en ma se woord is wet; en soms is ouers onredelik en onverbiddelik.  Daardie woede word nie uitgepraat nie.  Maar selfs as ouers billik en regverdig is, onstaan daar steeds woede by kinders teenoor hul ouers.  En dikwels word dit nooit op ‘n aanvaarbare manier ontlont nie.

Op skool is ons geleer om jou onderwyser te respekteer en te eerbiedig – waardes wat vandag baie nodig is en dikwels nagelaat word.  Maar kinders ervaar dikwels van persone in gesagsposisies dat hulle nie gehoor of verstaan word nie, wat aanleiding gee tot onderdrukte woede.

Vriende kan mekaar se ego’s lelik knou – ‘n skewe antwoord, ‘n belediging of valse beskuldiging.  Wat maak jy met hierdie woede?

Teenoor jouself raak ‘n mens net so maklik kwaad – ek het nie presteer soos ek wou nie; ek het so hard probeer, maar kon nie daardie prys wen nie; ek het al weer ……!

Woede wat na binne gekeer word, is uiters skadelik vir die persoon se psige en lei uiteindelik tot depressie.  Selfs in die hantering van verlies word woede beleef – soms heeltemal irrasioneel, maar dit is tog daar!  Woede vir die dokter, die ambulans, die afgestorwene, vir myself, selfs vir die Here!

  1. Trauma

Dit word beskryf as iets wat met jou gebeur wat erge skok, pyn en/of lyding veroorsaak, wat jy nie kon verhoed nie en dit het ‘n groot impak op jou lewe waarby jy moet aanpas.  Voorbeelde wat trauma veroorsaak is die dood, ongelukke, natuurrampe, mishandeling of aanranding, selfs die belewenis van iets tragies wat met ‘n ander persoon gebeur.  Dit gaan gepaard met ‘n gevoel van onmag en dikwels opstand – jy kon nie keer dat die ding met jou of die ander persoon gebeur nie, jy wou dit nie gehad het nie en nou moet jy noodgedwonge daarby aanpas.

Die Lewenskrisis skaal (Holmes en Rahe, in Coetzer, 2008) se lys van die 30 grootste stressors:

  1. Dood van eggenoot
  2. Egskeiding
  3. Huwelikskeiding
  4. Tronkstraf
  5. Dood van ‘n nabye familielid
  6. Persoonlike besering of siekte
  7. In die huwelik tree
  8. Afdanking by die werk
  9. Huweliksversoening
  10. Aftrede
  11. Groot verandering in gesondheid of gedrag van ‘n familielid
  12. Swangerskap
  13. Seksuele probleme
  14. Toevoeging van gesinslid (geboorte, aanneming, ens.)
  15. Besigheids-heraanpassing (samesmelting, bankrotskap, ens.)
  16. Groot verandering in finansiële posisie
  17. Dood van ‘n intieme vriend
  18. Verandering van werk
  19. Verandering in aantal argumente met huweliksmaat
  20. Om ‘n groot lening of verband aan te gaan (huiskoop)
  21. Beënidiging van ‘n lening of verband
  22. Groot verandering tov verantwoordelikhede by werk
  23. Kind verlaat huis (huwelik, college, universiteit, ens.)
  24. Probleme met skoonfamilie
  25. Uitstaande persoonlike prestasie
  26. Huweliksmaat begin of beëindig werk
  27. Begin of beëinidiging van skoolloopbaan
  28. Groot veranderinge in lewensomstandighede
  29. Hersiening van persoonlike gewoontes (kleredrag, vriendekring, ens.)
  30. Probleme met werkgewer
  31. Groot veranderinge in werksure of omstandighede
  1. Langdurige emosionele pyn

Langdurige blootstelling aan ‘n situasie wat emosionele pyn veroorsaak, kan daartoe bydra dat ‘n persoon gewoond raak aan die hartseer, vrees, onsekerheid, ens.  So ‘n persoon raak geleidelik emosioneel, geestelik en fisies uitgeput wat lei tot depressie.  Dikwels weet die persoon dit nie eers nie, want dit voel maar net ‘normaal’ vir hulle.  Dikwels is dit eers wanneer sekondêre probleme ontstaan, bv. ‘n verhoudings- of huweliksprobleem, probleme by die werk of met gesondheid, dat dit ‘ontdek’ en gediagnoseer word.

Dikwels gaan ‘n gevoel van onregverdigheid (injustice) hiermee gepaard – daardie diep gewortelde gevoel dat iets nie reg is nie, dat daar ‘n onbillikheid is en dat mense voel dit moet reggestel word.  In alle sektore van die samelewing vandag is daar talle voorbeelde hiervan, wat die gevoel n onregverdigheid wat mense ervaar, baie geldig maak.  Maar wanneer dit buite beheer en ongebalanseerd raak, met ‘n onderliggende gevoel van woede daaragter, kan dit baie destruktief in die emosionele lewe van die persoon raak en tot depressie aanleiding gee.

  1. Genetika

Genes kan daartoe bydra dat ‘n mens byvoorbeeld makliker neerslagtig raak vanweë jou omstandighede, wat bydra dat depressie kan ontwikkel weens te min serotonien in die brein.  Die tekort aan serotonin, die sg. “goed-voel”-hormoon, veroorsaak ‘n langdurige hartseer, ongelukkigheid en baie ander van die bg. simptome, wat uiteindelik ‘n depressie word.  Alhoewel genetiese faktore nie bepaal dat alle mense depressief sal raak as jou ouers depressief was nie, wil navorsing tog aandui dat daar ‘n verband kan wees in die frekwensie van depressie in sulke families. 

‘n Ander studie (Gerhardt, 1976, in Kasese-Hara et al, 2008) dui ‘n potensiële risiko-geneigdheid by alle mense aan om depressief te raak nadat ‘n stressvolle lewensgebeurtenis belewe is.  M.a.w. daar is volgens hierdie studie ‘n moontlikheidsfaktor dat alle mense depressief kan raak weens ‘n stresvolle gebeurtenis (probability rate of onset).  Volgens die studie hang dit baie af van ‘n persoon se kwesbaarheid (vulnerability) of weerbaarheid.  Hierdie emosionele weerbaarheid (kwesbaarheid funksioneer as tussenganger tussen die lewensgebeurtenis en depressie.  Dus – hoe groter (meer) weerstand hy het, hoe minder is die kans dat jy depressief (of ernstig depressief) sal raak.

  1. Aangeleerde gedrag

Persone wat grootword in ‘n omgewing waar een of beide ouers ‘n depressielyer is, kan moontlik die reaksie van die depressiewe ouer op stress en trauma naboots as ‘normaal’ en as sulks mag daar by hulle ‘n groter geneigdheid tot depressie as aangeleerde gedrag wees.  Dit word hulle normale ‘coping skill’ en die manier waarop hulle op probleme en uitdagings reageer.

Depressie en Angs

Daar is ‘n noue verband tussen die twee, alhoewel dit nie dieselfde is nie.  Angs kom voor as ‘n emosionele versteuring en net soos met depressie kan dit op ‘n kontinuum van lig, matig tot erge versteuring gediagnoseer word.  Wanneer angstigheid hardnekkig voortduur en met die persoonlikheid begin inmeng, word dit as ‘n neurotiese siekte geklassifiseer, nl. ‘n angsneurose.  ‘n Voorbeeld hiervan is dat ‘n klein foutjie as ‘n grote ramp of ‘n katastrofe beleef en beskryf word en die persoon glo dat dit regtig die omvang daarvan is. Die situasie kan eenvoudig nie in perspektief gesien word en op ‘n logiese vlak daaroor geredeneer word nie.

Fisiologiese reaksies op angs sluit in gevoelens van onsekerheid, slapeloosheid, senuweegagtigheid, bewing / bewerigheid, oormatige of uitermate sweet, huilerigheid en gedragsveranderinge. ‘n Akute angsaanval kan baie ernstig en traumaties beleef word, aangesien dit met baie simptome van ‘n hartaanval ooreenstem – iets wat die reeds angstige persoon gewoonlik baie groot laat skrik en nog meer angstig maak.

WAT OM TE DOEN AS JY DEPRESSIEF VOEL OF DINK DAT JY IS?

Oorlewing strategieë / Coping skills

  • Hou jou kop besig – lees, Sudoku, blokkiesraaisels – enige iets, al is dit net ‘n klein bietjie op ‘n slag.
  • Hou jou hande besig. Wees kreatief, plant iets, maak tuin, bak beskuit of koek, verf, skryf, sing, dans
  • Doen iets vir iemand anders – fokus weg van jouself.
  • Ontspanningstegniek om konsentrasie te verbeter – werk goed met angstigheid: 
  1. Asemhaling – rustig, fokus daarop vir 2 min.  Raak bewus van jou liggaam, omgewing, God.
  2. Tel van 5 na 1 terug en sê vir jouself: “Fokus!”
  3. Fokus vir 25 min op dit wat jy nodig het, wat jy besig is om te doen, ens.  Dan ontspan jy weer vir ‘n paar minute en herhaal die proses.

Leefstyl-aanpassings

  • Slaap genoeg.  Volg jou eie liggaam se aandrang en behoefte.
  • Eet gesond, sorg veral dat jy elke dag iets inkry wat proteïene bevat.
  • Oefening – lig, matig, ernstig, 3 – 4 keer per week.
  • Leer om ‘nee’ te sê sonder om skuldig te voel.  Stel jou grense vas – as jy voel dat jy misbruik word, maak ‘n einde daaraan.  Die sg. vriendskap wat jy op hierdie manier verloor, was waarskynlik nie jou opofferings werd nie.
  • Neem daardie moeilike besluit.  Een van die groot oorsake van depressie is ‘n gevoel van magteloosheid, ‘ek kan niks hieraan doen nie’.  Dus stel mense dikwels die besluit om iets in hul lewe te verander, uit.  Selfs al neem jy net een klein besluit – bv. om op te hou om vir iemand kwaad te wees, kan die begin van ‘n reeks positiewe besluite wees.
  • Gee jouself tyd om te treur, te rou, te tob – maar beheer dit.  Stel ‘n tyd vir jou vas, bv. vanmiddag 5 – 6 gaan ek my bekommer oor my kinders, of hartseer wees oor wat gebeur het. Dan gaan sit jy iewers op ‘n stil plek en jy is in jou gedagtes besig daarmee, jy voel soos jy wil voel en wanneer jou wekkertjie lui en die tyd verby is, gaan jy aan met iets anders.
  • Neem beheer oor jou reaksies.  Probeer om dinge in perspektief te sien.  Voordat jy reageer – probeer om die ander persoon se bedoeling te verstaan of maak seker daarvan.  Moenie sommer dadelik emosioneel regeer nie.
  • Hanteer jou woede.  Leer om op ‘n konstruktiewe en aanvaarbare manier vir mense te sê en te wys dat jy ongelukkig en kwaad is, sonder om jou top te blaas en die verhouding vir ewig te verloor.
  • Leer om te vergewe en om aan te gaan met jou lewe.  Sommige dinge wat ons beleef het, kan nooit ongedaan gemaak word nie; baie mense kom aan die einde van hul lewe en die onregverdigheid en onbillikheid waaraan hulle onderwerp was (of waaraan hulle dink hulle onderwerp was), is nooit opgelos en reggestel nie.  Mense wat met verbittering en onvergewensgesindheid saamleef, dra ‘n swaar emosionele las saam.  As jy kan leer om andere en jouself te vergewe, verlig jy ‘n groot las wat dikwels bydra tot depressie.
  • Geloof en gebed – Mag ‘n mens so voel as jy ‘n gelowige is?  Natuurlik!  Erken dat jy af voel, dat iets vir jou te veel vir jou kragte voel.  Hou op om voor te gee en ‘n rookskerm voor te hou dat jy nooit depressief raak nie.  Selfs in die Bybel is daar voorbeelde van Godsmanne wat depressief geraak het – Elia, Job, Hiskia.
  • Daar is ‘n sienswyse dat depressie ook God se manier kan wees om jou tot besinning te roep.  In ‘n boek van Seamands (Healing from damaged emotions) noem hy dit God se ‘cruise control’ vir jou lewe.  Dalk doen jy te veel, of is jou verwagtinge vir jou eie lewe of vir andere te hoog.
  • Stel realistiese doelwitte en vereistes vir jouself en vir andere rondom jou.
  • Pas aan by jou ouderdom, jou omgewing en jou vermoëns.
  • Ontwikkel ‘n gees van dankbaarheid.  Begin met ‘n lysie in jou gedagtes van dinge waarvoor jy vir God dankie kan sê – dinge wat jy nie gemaak het of niks gedoen het om te verdien nie:  Die getjirp van die voëls, die bome, blomme, veld om jou, die asem in jou lyf, sintuie, maan en sterre, die LEWE!

Ondersteuningsnetwerk

  • Vertroueling(e) na wie jy kan gaan of ‘n boodskap kan stuur wanneer jy ‘af’ voel.
  • Let op na familie – dis ‘n kosbare band wat deur God geskep is.
  • Koester jou vriende – oues en nuwes.
  • Skep verskillende vriendskapsbande – mense met wie jy ernstig kan wees, oor geld / geloof / siekte / beproewing kan praat, saam kan bid en huil; maar ook vriende by wie jy net ongenooid kan inval, jou skoene kan uitskop en jou skans kan laat sak, sommer net laf kan wees en kan lag.
  • Vermy eensaamheid.  Moenie mense wat na jou toe uitreik wegwys nie.  As jy vandag nie krag of moed het vir iemand se besoek nie, maak seker dat jy dit opvolg en sodoende nie daardie kosbare vriend verloor nie.
  • Moet nooit ander mense se belangstelling as vanselfsprekend aanvaar nie.  Mense word op ons pad geplaas vir ‘n rede.  Jy sien dalk nie die persoon as ‘n potensiële vriendin of iemand wat jou kan bystaan nie, maar as jy die kontak (uitreik) van haar kant af net afmaak as niks en nie daarop reageer nie, mis jy dalk ‘n groot stuk seën wat die Here vir jou beplan en gereed het.

WANNEER NIKS MEER HELP NIE – DIT WORD NIE BETER NIE

Terapie

Die hoofdoel van terapie is dat ‘n mens moet praat oor dit wat jy beleef, hoe jy voel en oor dit wat met jou gebeur.  Terapie kan baie doen om ‘n persoon se perspektief op sy lewe te verbeter of reg te stel.  Dit behoort ook die persoon te lei tot selfinsig en om die vermoë te ontwikkel om jou probleme beter te kan hanteer en die hoof te bied, m.a.w. om geleenthede raak te sien wat jy vantevore dalk weens jou emosionele toestand, gemis het.  ‘n Openhartige gesprek met ‘n vertroueling, bv. ‘n familielid of ‘n vriendin, kan net so terapeuties wees, solank as wat die vertroueling objektief is – iets wat nie altyd moontlik is wanneer die persoon baie naby aan ‘n mens is nie.  Daarom is terapeutiese gesprekke met ‘n onbetrokke en (hopelik) objektiewe persoon dikwels nodig.

M. Scott Peck skryf in The road less travelled and beyond: “There’s no need for therapy when you’re clearly growing well without it.  But when we’re not growing, when we’re stuck and spinning our wheels, we’re obviously in a condition of inefficiency.  And whenever there’s a lack of efficiency there is a potentially unnecessary lack of competence.”  Terapie behoort daarop gemik te wees om die persoon te laat groei en toeneem in effektiwiteit, veral in situasies wanneer ons nie onsself is of ten volle effektief funksioneer nie.

Die rol van medikasie

Soos gesê gaan depressie gepaard met ‘n chemiese wanbalans in die brein, wat reggestel moet word deur die herstel van die balans!  Baie van bg. aanpassings kan help om dit op ‘n natuurlike manier aan te vul, veral wanneer die depressie nog nie ‘n ernstige graad bereik het nie. Wanneer depressie deur ‘n sielkundige of ‘n dokter gediagnoseer word, is dit dikwels nodig vir medikasie, veral in gevalle wanneer die persoon nie meer kan slaap nie en erge vlakke van mismoedigheid en hoop-loos-heid intree.  Ook wanneer ‘n persoon selfmoord geneigd raak.

Daar kan baie gesê word oor die verskillende tipes a/d’e – dit is ‘n intensiewe veld van gespesialiseerde behandeling wat baie goed gemonitor moet word.  In hoofsaak moet a/d onder streng toesig van ‘n dr gebruik word.  Dit neem ‘n paar weke (tot maande) vir die medikasie om die gewenste bloedvlakke te bereik en moet daarom presies soos voorgeskryf gebruik word.  Wanneer die pasiënt nie met die newe-effekte kan saamleef nie, moet die dr. gekontak word en die medisyne nie net na willekeur gestaak word nie.  Ook wanneer dit onder toesig gestaak word, moet dit versigtig gedoen word, sodat die liggaam weer daarby kan aanpas om sonder die middel klaar te kom.

Sommige middels kan gewoontevormend wees, maar beslis nie oor die algemeen almal nie.  Dit is goed om hieroor met jou dr. of apteker te praat oor dit wat vir jou voorgeskryf is.  Sommige middels bevorder die afskeiding van melatonien, wat die liggaam se natuurlike slaap aanhelp; ander help om die gemoed te stabiliseer terwyl ander help om die gedagtes en irrasionele reaksies in orde te kry.  En dan is daar nog ‘n magdom ander effekte wat verfyn is in die samestelling van die verskillende middels.

Medikasie en Terapie staan nie teenoor mekaar nie.  In die hulpverleningsproses is dit soos die twee bene waarop ons staan en loop en daar behoort goeie balans en samewerking tussen die twee prosesse te wees.

Wees ‘n lewenstou vir iemand anders

Nie almal kom by ‘n dokter uit of het medikasie nodig nie, maar baie mense het ‘n bietjie hulp en ondersteunig nodig.  Dit is waar ons elkeen na mekaar kan uitreik en ‘n oor wees, ‘n skouer, ‘n vashou sonder woorde.

Ragab het ‘n tou uitgehang om die verspieders te help – dit het hulle reddingstou geword.  Ons kan in ons kontak met mense ‘n emosionele, geestelike of figuurlike reddingstou uitgooi, dalk is dit op daardie dag die een ding wat ‘n moedelose mens wat by breekpunt is, weer iets gee om aan vas te hou.  In die meeste gevalle het mense nie ons woorde nodig nie, maar wel ons daar-wees – net ‘n oor wat luister met ‘n omgee-hart.  Jy hoef nie raad te gee nie, jy hoef nie kennis te hê nie – wees net stil teenwoordig en luister.

Daar is ‘n baie ou liedjie met dieselfde strekking:

Throw out the Lifeline

Throw out the lifeline across the dark wave;

there is a brother whom someone should save;

somebody’s brother! Oh, who then will dare

to throw out the lifeline, his peril to share?

Refrain:

Throw out the lifeline!  Throw out the lifeline!

Someone is drifting away.

Throw out the lifeline!  Throw out the lifeline!

Someone is sinking today.

Soon will the season of rescue be o’er,

soon will they drift to eternity’s shore;

Haste then, my brother, no time for delay,

but throw out the lifeline and save them today.