Leef ‘n Lewe Van Selfgenoegsaamheid – ‘n Praktiese Oefening

Wanneer laas (of hoe onlangs) het jy gedink dis nodig om ‘n nuwe blaadjie om te slaan, om nuut of skoon te begin?

Dink vir ‘n oomblik na en skryf jou gedagte of voorneme iewers vir jouself neer.

Tyd vir selfondersoek

Waaruit spruit hierdie gevoel by jou dat dit tyd is vir ‘n skoon begin? Waar kom dit vandaan? Het dit dalk iets te doen met ‘n onvergenoegdheid met jouself, iets soos ‘n diepliggende ontevredenheid met jouself? Moontlik voel jy teleurgesteld met jou eie prestasies en wat jy bereik het (of nie bereik het nie)? Dit kan dalk samelewings-eise wees – dit wat ander mense van jou verwag. Moontlik is dit net jou indruk wat jy dink hulle van jou verwag. Jy dink hulle wil hê jy moet op ‘n sekere manier optree, dink en wees. Dink ‘n bietjie na oor jou eie dryfkrag, jou eie strewe vir jouself. Dit kan positief of negatief wees. Dit is gewoonlik meer positief om jou met jouself te vergelyk, terwyl dit gewoonlik in negatiewe emosies en gedagtes eindig wanneer jy jouself met ander, hul prestasies en vermoëns vergelyk.

Voordat jy verder lees – vertoef ‘n oomblik by hierdie gevoel van selfondersoek. Waarvan raak jy in jouself bewus, en skryf dit neer.

Die SELF: Selfkennis

Gestel jy moet jouself vir ‘n ander persoon beskryf om te sê wie jy is. Nie jou naam en van nie, nie jou werk of posisie in die samelewing nie, maar wie die persoon is wat na jou terugstaar in die badkamerspieël. The man in the mirror. Daardie persoon wat waarskynlik almal rondom jou kan flous met jou voorkoms, kleredrag, haarstyl, ja, jou image .. maar uiteindelik wanneer alles van jou afgestroop is, kan jy jouself nie om die bos lei nie. Wie is die siel agter die oë wat na jou terugkyk in die spieël wanneer jy die masker voor jou gesig laat sak?

Gebruik jou skryfpapier en skryf 10 eienskappe van jouself neer – 5 positiewe of goeie eienskappe en 5 negatiewe of swakker eienskappe. Dit is persoonlik, net vir jou eie oë. Wees dus 100% eerlik met jouself.

Hoe het jy gevaar? Was dit maklik om die negatiewe oor jouself neer te skryf? Dalk ‘n bietjie moeiliker om die positiewe dinge in jouself raak te sien en te erken? Dikwels is ‘n mens so geneig om ons vas te staar teen dit wat ons nie is nie, dit wat ons nie het nie en nie regkry nie dat ons nie altyd die goeie kwaliteite in onsself raaksien nie. Ons is tog so bang dat ons verwaand en voor-op-die-wa sal wees of dalk te veel van myself sal dink. Sit ‘n oomblik stil en dink net oor jouself, oor die ware JY agter die uiterlike en gee jouself die krediet wat jy verdien.

Dit is nodig dat ons eerlik met onsself sal wees, daarom moet jy gou weer na jou lysie kyk en aanvul as jy aan nog iets dink.

Die SELF: Selfinsig

Kom ons sit hierdie sake wat op jou lysie geskryf staan op ‘n denkbeeldige skaal met twee bakke. Al die swakker eienskappe kom in een bak en die beter eienskappe in die ander bak.  Miskien is jou skaal nie in balans nie, maar hopelik is daar gewig in albei bakke. Die meeste mense strewe daarna dat die goeie dinge in jou lewe swaarder sal weeg as die minder-goeie dinge. Niemand is net goed en volmaak nie maar ons streef dikwels na iets beter, na die volmaakte, al bereik ons dit nooit volkome nie. Daarom gaan jy nou die kennis wat jy van jouself opgedoen het, gebruik om meer insig in jouself te verkry.

Hanteer elkeen van jou goeie eienskappe afsonderlik. Jy het dalk geskryf dat jy Vriendelik is. Sê nou vir jouself:

“Ek is vriendelik. Dis ‘n baie goeie eienskap om te hê. In ons samelewing is dit noodsaaklik dat ek hierdie eienskap sal gebruik, want die wêreld sal ‘n baie slegter of treuriger plek wees as ek nie hierdie eienskap het om te gebruik nie. Ek kan daarmee ‘n verskil maak.

Die drie sleutelwoorde in hierdie paragraaf, is GOED om dit te hê, NOODSAAKLIK om dit te gebruik en ek kan ‘n VERSKIL MAAK daarmee.

Skryf die sleutelwoorde onder jou lys van goeie eienskappe neer. Gebruik tyd om elkeen van jou goeie eienskappe te oordink. Wees rustig daarmee en sê vir jouself die paragraaf oor met elkeen van jou goeie eienskappe in gedagte.

Skryf nou die woordjie HOE? onder jou lys neer. Jy kan ‘n verskil in die wêreld maak met jou goeie eienskappe, maar hoe gaan jy dit doen? Wat kan jy met jou goeie eienskappe doen om van die wêreld ‘n beter plek te maak?

Skryf jou gedagtes neer, sonder om te sensor en jouself te beperk. Indien daar geen hindernis of beperking op jou was nie, wat sou jy met jou positiewe eienskappe wou doen?

Nou gaan jy ook jou swakker eienskappe een vir een hanteer. Vra jouself af waarom dit ‘n swakplek in jou persoonlikheid is, wat hierdie swakplek in jou veroorsaak en wat die gevolge van hierdie eienskap is?

Die drie sleutelwoorde hier is HOEKOM, wat is die OORSAAK van die swak eienskap en wat is die GEVOLGE daarvan.

Gebruik dit en oordink elkeen van die eienskappe wat jy op jou lys geskryf het. Wees eerlik met jouself en skryf jou insig oor jouself neer.

Voorbeeld: “Ek is verstrooid. HOEKOM? (Hoe sien ek dit?) Ek vergeet goed. OORSAAK: Ek probeer te veel goed gelyktydig hanteer en maak nie eers een ding klaar voor ek met iets anders begin nie.  GEVOLG: Dit raak te veel vir my, ek raak gespanne en verstrooid omdat ek nie behoorlik konsentreer nie.

Wanneer jy jou lysie deurgegaan het, kan jy oor elkeen van jou swakker eienskappe die vraag beantwoord of jy dit wil VERANDER of nie? Sê dus vir jouself: JA, ek wil dit verander; of NEE, ek wil dit nie verander nie. Oor die HOE om dit te verander, sal ons netnou gesels.

Gebruik ‘n paar minute en wees eerlik met jouself sodat jy groter insig oor jouself kan kry en skryf jou gedagtes neer.

Die Self: Selfaanvaarding

In die derde deel van die oefening word die kennis en insig wat jy in jouself gekry het, of wat miskien weer ingeskerp is, gebruik om tot ‘n groter mate van selfaanvaarding te kom. Jy het jou lysie van persoonlike eienskappe deurgewerk. Jy het jouself krediet gegee vir wie/wat jy is, wat jy kan doen, wat jy bereik het, ens. Jy het ook eerlik stilgestaan by die dinge wat jy in jouself as swakhede beskou en vir jouself gesê waarom dit vir jou ‘n swak eienskap is, wat die oorsake en gevolge daarvan is. Miskien het my by van hierdie eienskappe gesê jy wil dit verander, terwyl jy van die ander dalk nie wil verander nie.

Dis heeltemal in order om met ‘n swakker eienskap saam te leef. Jy voel dalk dat dit nie kan verander nie, of dat dit maar net so deel van jou is, datt jy nooit anders sal of kan wees nie. Dan sê ‘n mens vir jouself: “Goed, ek weet nou ek het (bv.) ‘n vinnige humeur. Ek word heeltemal te gou kwaad en kan myself dan glad nie beteuel nie. Ek weet wa die oorsaak daarvan is en ek weet die gevolge daarvan is. Ek aanvaar dit nou dat it vir die res van my lewe so sal wees, totdat ek besluit om te verander.” En dan leef jy daarmee saam en jy aanvaar dit, want jy het so besluit.

Met die eienskappe wat jy wil verander, moet ons nou werk. Kies nou een van die swak eienskappe wat jy die graagste wil verander en lees wat jy daaroor geskryf het by die sleutelwoorde HOEKOM, OORSAAK EN GEVOLG. Dit is baie belangrik dat jy nou weereens baie eerlik met jouself sal wees wanneer die die volgende vraag beantwoord: Wat is die basis, of die grondslag van hierdie swak eienskap?

Voorbeeld: Jy is dalk bang om seer te kry. Hoekom is dit vir jou ‘n swak eienskap? Jy laat nie mense naby aan jou toe nie en hou hulle eerder op ‘n afstand. Die oorsaak daarvan is omdat jy vantevore seergekry het toe jy mense vertrou het en as vriende gereken het, maar wat later geblyk het nie ware vriende is nie. Die gevolg hiervan is dat jy min vriende het. Die basis of grondslag van hierdie bang-wees (vrees) vir seerkry is dus dat daar eintlik ‘n behoefte aan vriende bestaan en dat jy moet leer om mense naby aan jou te vertrou! Namate jy dit begin regkry, leer jy dat jy mense moet toelaat om jou ware jy te leer ken, sodat jy hulle ook goed kon leer ken en vertrou. Om jou vrees vir seerkry te oorwin, moet jy dus doelgerig daaraan werk om mense te leer vertrou.

Hierdie tipe veranderinge is soms ‘n lang en moeisame pad. Dit verg ‘n doelbewuste besluit, deursettingsvermoë en dikwels terugslae wanneer jy weer moet opstaan en weer probeer. Uiteindelik, met volharding en vasbyt, is dit wel moontlik om ‘n swak eienskap in ‘n positiewe of gunstige eienskap te verander.

Gebruik soveel tyd as wat jy nodig het om die proses te oordink met elkeen van die eienskappe wat jy wil verander.

Skryf dit vir jouself neer, sodat jy jou gedagteproses kan kontroleer en regstel indien nodig.

Ten Slotte: Selfgenoegsaamheid

Kyk weer na die gedagte wat jy neergeskryf het aan die begin van hierdie oefening – jou voorneme of gedagte om ‘n nuwe blaadjie om te slaan of nuut te begin.

Kyk weer na jou lysie van jou swakker eienskappe en probeer vasstel of daar nie moontlik ‘n verband is nie – Is jou behoefte(s) aan vernuwing, verbetering, regstelling, nie juis gekoppel aan dit wat jou die meeste aan jouself pla nie? Dit wat ‘n mens as jou grootste swakheid beskou, is heel dikwels juis die ding wat jy die graagste wil regstel of verander – want dit veroorsaak dikwels onrus of onvrede in die binneste en in verhouding met andere.

Kyk weer na jou lysie van jou goeie eienskappe. Wat is daar in hierdie lysie van jou wata jou in staat stel om hierdie doelwit wat jy vir jouself gestel het, te bereik en in die proses ook jou swak eienskap(pe) te oorkom? Dink so daaroor: God gee dikwels die vaardighede wat ons nodig het om ons tekort mee te bowe te kom. Ons moet dit net raaksien! Indien jy steeds voel dat jy nie oor daardie vaardighede beskik nie, is dit dalk tyd dat jy by ‘n objektiewe luisteraar gaan hulp soek.

Wat beteken dit om selfgenoegsaam te wees? Die woordeboek sê om met jouself tevrede te wees. Of ook – om te weet dat dit wat jy binne jouself het, is genoeg. Jy hoef nie iemand anders te probeer wees nie. Jy moet net die beste jy wees wat jy kan wees. Daarom is dit soms nodig om rustig oor jouself na te dink – oor dit wat jy wil verander en ook oor dit waarmee jy besluit om saam te leef. Deur jouself goed te ken en te verstaan, help ook om kalmer te bly en te weet hoe om jou sterker eienskappe aan te wend om ‘n verskil te maak – in jou eie en andere se lewens.